More info
Hardback. Afrikaans. Tafelberg. 1996. In good condition.
Fabian Latsky, wereldreisiger, dink terug aan sy kindertyd op die vakansieplaas Soebatsfontein in die Karoo. Veral die somer van 1960, waarin baie somers saamvloei en dinge gebeur wat sy lewensuitkyk onherroplik verander. Sy ma, wat terughunker na haar toneeldae, leef vir die nuwe Seison, wanneer die rondawels op die kikoejoegrasperk uit hul nate sal bars van besoekers. Dit sal ontvlugting bied, weg van die hallusinasies van haar man wat deur Dokter Clark - in pas met die opkomende Beat Generation in New York - met LSD behandel word. Weg van 'n saai bestaan wat slegs opgehelder word deur haar geheime ontmoetings met Majoor Hethcote MacKenzie, 'n oorlogsveteraan wat reeds twee jaar lank 'n gas op die plaas is. Onder die vakansiegaste wat opdaag, is Fabian se tant Geert, butch en bereis, wat hom, haar 'pupiltjie', leer dat die wereld veel groter is as die Karoo. Vir die somer het Geert 'n nuwe lover, juffrou Marge van die dorpsbiblioteek, en 'n Harley Davidson met 'n syspan om Karoostof mee op te jaag. 'n Opskudding word veroorsaak deur die aankoms van Charles Jacoby, die Afrikaanse cowboy-sanger met die wit stetson en manjifieke wit hings, Valour. Daar word gereel dat die Entertainer in rondawel Zane Grey sal oorbly voor sy konsert op Craock, en Fabian se ma gryp die kans aan om groot te organiseer. Terwyl Fabian verwikkelinge met' n arendsoog dophou en dikwels stilletjies luister en loer, sien hy onnoembare dinge onder die oppervlak roer. Daar is meer wat smeul as die lyk wat weke lank in die gloeiende hooimied le en verteer. Hy bly ook bewus van die Ding - die werkers noem hom Kikoejoe - wat in die donker rondsluip en sy kans afwag. Maar is dit die Dier wat die pragtige Sjonameisie Tsitsi een nag met geweld gryp? Of is dit Reuben, die swart kelner wat soos 'n skim tussen die gaste deur beweeg en haar heimlik begeer; die Broederbond-oom wat haar as hulp saamgebring het; die pastoor wat siele in die Moordenaarskaroo kom werf het; of selfs die kraaimaer Veteraan met sy medaljes en die silwer koeel wat hy gereed hou vir die Ding? Kikoejoe is 'n fassinerende opreop van 'n Karoojeug waardeur 'winde van verandering' waai. Dit boei op verskeie vlakke en bevestig opnuut dat Etienne van Heerden 'n skrywer van internasionale formaat is.